Find It in Kimberley - Driehoek-leerling: Die betonblok het voor my geval
Friday, 08 February 2019 18:48

Driehoek-leerling: Die betonblok het voor my geval Featured

Dit is vandag (Vrydag) presies ’n week gelede wat skokgolwe deur die land getrek het nadat talle leerders beseer en vier oorlede is toe ’n betonblok in die gange van Hoërskool Driehoek geval het.

Hierdie tragedie het mense regoor Suid-Afrika diep geraak en in rou gedompel. Sosiale media was vol van die gebeure en daar is selfs ’n gebedsgroep gestig op Facebook waar talle mense hulle emosies gedeel het, saam gebid het en mekaar ondersteun het.

 ’n Gr.11-leerling van Hoërskool Driehoek het ook ’n emosionele inskrywing op hierdie blad gemaak. *Susan (16) skryf onder andere: “Dit was een van dié tragiesste dinge wat nog met my gebeur het. Dit was die lelikste ding wat ek nog gesien gebeur het.” Susan was na bewering op pad na haar registerklas toe die betonblok, wat vier leerders se dood veroorsaak het, voor haar geval het. Sy skryf dat sy nog die oggend voor skool self onderdeur die brug geloop het.

Die voorval het net na die saalverrigtinge gebeur en die leerlinge was op pad klas toe. “Die klein rukkie wat ons moes agterbly in die saal het nie net my lewe nie, maar ook die lewe van al die ander gr.11’s gered,” skryf Susan.

Alles val 5 m voor my – soos ’n wit stuk papier

Susan was ongeveer 5 m voor die sementblok. “Toe sien ons iets val wat lyk soos ’n wit stuk papier,” vertel sy. “Die blok het nie so 'n harde geluid gemaak soos wat ’n mens sou dink nie. Ek het eers gedink daar word op ons geskiet.” Susan sê sy het eers gedink die kinders wat val, is kinders wat gespring het omdat daar geskiet word.

Toe tref dit haar

Sy het van die kinders onder die blok sien lê. “Sy kon nie presies sien wie waar lê  nie,” vertel haar pa, mnr. Venter aan FiND iT, “maar sy het gesien hulle lê daar.” Sy het weggehardloop, “Susan hou nie van bloed nie,” verduidelik haar pa. Sy het “meer gesien as wat sy moes”, soos sy dit beskryf. 

Bel haar pa

Mnr. Venter was op pad Potchefstroom toe vir werk toe hy die oproep van sy dogter kry. “Sy was histeries. Ek kon nie uitmaak wat sy sê nie. Maar ek het geweet daar is fout,” sê Venter. Hy het dadelik teruggejaag skool toe. “Die skool het dadelik opgetree en die regte mense gekontak om te kom help. Die onderwysers het geweet wat om te doen,” vertel Venter. “Niemand kan hulleself vir so iets voorberei nie.” Sy skryf ook dat haar pa eers gaan kyk het of hy nie kan help nie, voordat hy vir haar en ’n vriendin hospitaal toe gevat het sodat hulle vir skok behandel kon word.

Die enigste mooi van hierdie dag

Susan vertel die enigste mooi wat sy van hierdie dag onthou, is die bekommerde ma’s wat die skool binnegestorm het en in trane uitgebars het van verligting toe hulle hul kinders gesien het.

Sluit haar brief af met die woorde:

“Driehoek was nog NOOIT sleg vir my nie en dis nie die skool se skuld nie. Maar ek wil nie teruggaan nie.”

Venter sê die enigste een van die oorledenes met wie sy dogter kennisse was, was Marnus. “Susan het nie die begrafnisse bygewoon nie, sy is te emosioneel,” sê Venter.

Gaan terug skool toe

Venter sê dat hy in hierdie week sy dogter twee keer teruggevat het skool toe. Dit is sy manier om sy dogter te help om die tragedie van daardie dag te verwerk. “Sy wou aanvanklik nie teruggaan nie, maar dit gaan nou al beter met haar en glo sy sal reg wees om weer terug te gaan na Hoërskool Driehoek toe.”

Venter sê hy is glad nie bang om sy kind terug te stuur skool toe nie. “Hoërskool Driehoek is ’n goeie skool, dit is hoekom ek my kind daarheen gestuur het. Hulle was nog net goed vir ons,” sê Venter.

Venter sê die skool kommunikeer met die ouers en hou hulle op hoogte deur ’n SMS-stelsel. Voorlopig sal die skool Maandag soos normaal voortgaan.

*Susan is ’n skuilnaam wat gebruik is om die identiteit van die meisie te beskerm.

Read 733 times

Add comment


Security code
Refresh

 

booked.net

Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account