Find It in Kimberley - Kimberliete in Italië
Thursday, 10 January 2019 15:26

Kimberliete in Italië Featured

Johnny en Louise van der Merwe het onlangs teruggekeer van hul droomvakansie in Italië.

Die egpaar het ’n vakansie na Italië gewen nadat hulle in Mei verlede jaar ’n Elba-stoof gekoop het. Op die dag wat hulle die stoof gekoop het, het Louise die stoof op die webtuiste vir ekstra waarborg geregistreer. Sy het gesien daar is 'n kompetisie op die webtuiste en sommer besluit sy skryf in. Die egpaar is tans besig is om hul huis oor te bou en dit was nog altyd Louise se hartsbegeerte om ’n gasstoof te hê.

Vier maande het verbygegaan en Louise het al van die kompetisie vergeet.

“Die 5de Oktober het iemand my geskakel en volgens die reëls moet die wenners eers in kennis gestel word voor dit op enige sosiale media bekend gemaak word. Ek het gedink dis 'n absolute scam. Ons bly in Afrika, enigiets is moontlik. En ek het nog nooit iets gewen nie,” lag Louise.

Die egpaar het ’n sewe dae lange vakansie in Italië gewen.

Op die 14de Desember het hulle vertrek op hulle lang verwagte vakansie. “Hulle het ons eerste sewe dae in Rome en Venisië bespreek,” vertel Louise. Die egpaar het besluit om nog sewe dae langer te bly en Pisa, Florence en Napels plat gereis.

Hulle eerste stop was in Dubai. “Ons was slegs vier ure op die lughawe. Ons tyd was beperk, so ons kon nie regtig rondloop nie. Ons het net koffie gekoop, tande geborsel en wintersklere aangetrek.”

Louise vertel Italië het al haar verwagtinge oortref.“ 'n Mens het altyd ’n prentjie in jou kop van hoe dinge lyk, maar Italië was soveel beter as wat ek ook kon dink. Dit slaan letterlik jou asem weg.”

Louise vertel dit het haar verstom hoe skoon Rome se lughawe is. “Ons dog ons stap in ’n kerk in!”

Hulle het dadelik ’n plek met WiFi gesoek om te kyk hoe ver hulle van die hotel af is. “Ons moes toe ’n taxi reël, dit was vrek ver.”

Hulle het Italië letterlik plat gereis en nie ’n oomblik stilgesit nie. “Ons het die straatkosse soos pizza en pastas baie geniet, asook hulle roomyse, al was dit winter. Ek kon natuurlik nie genoeg kry van hulle wyn Prosecco nie,” lag Louise. Prosecco is ’n Italiaanse wit wyn.

Louise vertel dat dit moeilik is om uit te sonder wat vir hulle die lekkerste was van die hele toer, maar dat die groot katedraal, die St. Peter's by die Vatikaanstad, hulle verstom het oor hoe mooi dit is. “Die Pisa-toring was ook asemrowend.”

 

Johnny sê dat dit hom verbaas het oor hoe smal die strate is en dat mense daarin parkeer en bestuur. “Die mense rook ook verskriklik baie daar en die meeste mense stap of ry fiets.”  

Louise vertel dat daar nog telefoonhokkies is wat werk en nie uitgeruk is nie. Die treinstasies is ongelooflik en mens hoef glad nie bang te wees nie.

“Hulle tegnologie is baie beter as ons s'n. Vrouens vee almal strate en almal werk om kos op die tafel te sit. Jy kan sien die mense daar wil almal werk.”

Johnny en Louise sê dat hulle sonder twyfel weer sal teruggaan, maar dié keer vat hulle hul tweeling, Kara en Mienke, saam. “Ons wil hulle gaan wys wat ons alles beleef het.”

Hier is ’n paar van Johnny en Louise se gunstelingplekke indien jy Italië wil besoek:

·         Die Colosseum 

·         St. Peter-katedraal

·         Die gondolas in Venesië

·         Milan se strate

·         Da Vinci se museum

·         Michelangelo se beeld in Florence

·         Boboli-tuine in Florence

·         Die Ponte Vecchio-brûe in Florence 

 

 

Read 429 times

Add comment


Security code
Refresh

 

booked.net

Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account