Find It in Kimberley - Mattanu toe vir die naweek
Wednesday, 14 November 2018 10:06

Mattanu toe vir die naweek Featured

Dis naweek. Dis warm. Kinders wil hardloop en speel en jy as ouer wil ontspan en soek stilte.

As jy in Kimberley woon, is dit ’n uitdaging. Ons sit met die dilemma so twee weke terug. Wat doen ons die naweek? Ek soek op Air BnB na plekke wat uitverhuur word op plase, maar kry niks wat my aandag trek nie. Ons soek iets privaat, maar mooi. Iets naby, maar afgeleë. Erens waar ons die kinders hulleself kan geniet, maar waar ons kan ontspan. Die plek moet verseker lugverkoeling hê. En genoeg slaapplek! Ek soek na plekke aanlyn wat naby is, maar ons was al by verskeie. Ek soek iets anders.

Kom kuier op Mattanu

Dis toe ek onthou van Jacques Kriek se uitnodiging dat ons moet gaan kuier op Mattanu. Ek was al baie op Mattanu, maar het nog nooit oorgeslaap nie. Die plaas is net buite Barkly-Wes, ’n entjie aan met ’n grondpad. Dis mooi. Dis stil. Dis afgeleë. Maar dit het die mees gesofistikeede uitleg. Die mooiste swembad. Rustige atmosfeer.

Ons reël ons dinge so dat ons na werk ry die Vrydag. “Ja,” sê Jacques, “daar is baie vir die kinders om te doen.” Ek vra moet ek beddegoed pak? (Want kyk, dis ’n gepakkery van die môre tot die aand as jy moet beddegoed en handdoeke en alles saamneem. Vir kamp is ek nie lus nie.)

Daar is alles

“Nee,” sê Jacques. “Hier is alles. Hout, vuurhoutjies, ys, borde, glase, handdoeke - alles.” 

Ek gooi ’n paar kledingstukke in ’n tas en maak ’n draai by Woolies en toe is ons reg om te gaan. “Maar,” Whatsapp ek vir oulaas vir Jacques, “is daar ’n haardroeër?”

“Ja,” antwoord hy. “Hier is alles.”

By Mattanu aangekom word ons ontvang deur die lodge-bestuurder. Sy wys ons waar ons bly en waar alles is. Ons wil nie in die restaurant gaan eet nie, want ons wil braai. Sterre kyk. Daai tipe ding. Die restaurant bied aandetes aan en jy kan ook in die veld spesiaal vir jou laat dek. Dit alles kan vooraf gereël word.

Vuur en wyntjie

Die kinders vaar die vlaktes in en vind baie gou die swembad. “Mamma, kom kyk! Dis awesome!” Gelukkig het ek wel die swemklere ingepak. Die swembad is regtig iets om te beleef. Reg in die middel van die ligblou swembad is ’n tafel gedek. Die son gaan onder in die verte. Dis rustig en stil. Die water was wel bietjie koud vir my, maar kinders voel mos nie koue nie.

Later het ons ’n vuurtjie aangesteek en met ’n wyntjie ontspan terwyl die kinders die gebied “verken” het. Onthou om klein flitsliggies in te pak. Dis oulik as hulle met flitsies in die donker rondloop en “goeters soek”.

Hoogtepunt

Die eintlike hoogtepunt was die volgende oggend. Hier moet ek net bysê dat kinders wel nie op hierdie plaas later slaap as gewoonlik nie. :-) Hulle was van opgewondenheid al HALFSES wakker! Wat natuurlik beteken ons moet toe vaak en deur die slaap kyk hoe die son opkom. Gelukkig was dit baie mooi en die vars lug doen almal goed. 

Die verassing waarvoor die kinders so vroeg wakker geword het, was die vierwielmotorfietse waarmee hulle agter die wildbesigtigingswa kon aanry. Die grootmense het op die bakkie gesit, terwyl die kinders vreeslik opgewonde met die motorfietse gery het.

Wildkyk

Ek is mál oor kameelperde en ons was so gelukkig om ses te sien! Ons gids het ons baie interessante inligting oor die diere wat ons gesien het, gegee. Ons kon meer leer oor die wildbedryf in die Noord-Kaap, wanneer die eerste Swartwitpens (Sable) in Suid-Afrika aangekom het en baie oor deelgroepe en ooie en bulle en die lengte van horings.

Die hele ondervinding was ontspannend en lekker. Ons gaan verseker weer! Die keer sal ek tot 'n duik in die swembad vat. 

Hier is Mattanu se besonderhede, gaan kyk vir jouself! Klik op wat jy wil sien:

Die akkommodasie

Die wild wat jy kan sien

Pakette vir die dag

Funksies en troues

Die kontaknommer: +27 60 988 5555

Hier is die kaart van hoe jy by Mattanu uitkom:

Read 976 times

Add comment


Security code
Refresh

 

booked.net

Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account