Find It in Kimberley - FiND iT ontmoet vir Jakkie Louw
Thursday, 08 November 2018 12:11

FiND iT ontmoet vir Jakkie Louw Featured

Jakkie Louw Jakkie Louw Photo credit: FiND iT

FiND iT het die voorreg gehad om die Drie Pikkewyne-sanger, Jakkie Louw, te ontmoet voordat hy Donderdagoggend teruggevlieg het Pretoria toe.

Loopbaan

Hierdie man, met die groot hart en sprankelende persoonlikheid, is al twee dekades lank in die musiekbedryf. Jakkie het begin sing op die ouderdom van 15 nadat sy 18-jarige broer oorlede is in ’n motorfietsongeluk. Byna presies ’n jaar later het ’n motorfietsongeluk waarin hy ligamente geskeur het, Jakkie vir ses maande aan ’n rystoel gebind. In hierdie tyd het Jakkie leer mondfluitjie speel. 

Jakkie het aanvanklik B.Rek aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, maar in sy derde jaar het hy musiek bo hierdie studies gekies en het hy saam met Koos Kombuis gaan toer.

Resepteboeke

Nes Jakkie se pa het hy ook ’n liefde vir kosmaak. “Ons is boermense,” vertel Jakkie. “My pa bak graag, van bolletjies tot beskuit.” Jakkie het ook al twee resepteboeke uitgebring, onderskeidelik; Jakkie Louw se bak en brou, en Die koekie loekie boekie.

Jakkie kom Kimberley toe

Jakkie ken al ’n geruime tydjie vir Anneke Kruger, een van die vele engele op aarde wat help met die Anneke Rossouw-fonds. “Toe Anneke my bel en vra of ek in Kimberley sal kom optree, het ek geweet dit is ernstig.” Jakkie doen 12 gratis vertonings ’n jaar vir KANSA. Woensdagaand se vertoning was ook deel hiervan en hy het sy hare op die verhoog afgeskeer ten bate van kanker. “Ek het met die idee gekom om my hare af te sny a.g.v. ’n dogtertjie in Rustenburg, genaamd, Mila, wat nie hare het nie.”

Vertoning ten bate van Anneke Rossouw

Alle fondse wat Donderdagaand by die Jakkie Louw-vertoning ingesamel is, gaan vir Anneke Rossouw wat vroeër vanjaar met maligna melanoma, ’n erge velkanker, gediagnoseer is. 740 kaartjies is vir hierdie vertoning verkoop. “Dit was die grootste vertoning vir liefdadigheid waartydens ek nog gesing het. Kimberley se mense is ’n wonderlike gemeenskap. Ek kon die sterk liefde van die mense in die gehoor voel. Dit was ’n familie-gehoor.”

Kanker lê Jakkie baie na aan die hart

“Ek het al baie vriende en familie aan kanker afgestaan,” sê Jakkie oor ’n swart koppie koffie. “’n Goeie vriend van my se meisie is gediagnoseer met skildklierkanker. Ek het die liedjie Een miljoen woorde vir my vriend gegee wat ook sing. Die platemaatskappy het egter gesê dat die liedjie nie die regte klank is vir sy teikengroep nie en die liedjie aan Jakkie teruggegee. Ek het toe self betaal om die liedjie en die musiekvideo te skiet juis omdat kanker my na aan die hart lê.” Jakkie vertel met dankbaarheid dat sy vriende se meisie genees is van kanker.

Anneke Rossouw

“Gisteraand was absoluut wonderlik!” sê Anneke opgewonde. “Die mense het net gekom en gekom.” Anneke het ook ’n paar weke gelede haar eerste behandeling gehad, “Ek het geen newe-effekte gehad nie. Ek voel eintlik baie goed en is baie positief.” Anneke gaan oor ’n week vir haar tweede behandeling. “Dis eers na die vierde behandeling wat hulle weer ’n skandering doen en dan sal kan vasstel of die kanker beter is en of die behandeling werk.”

Anneke is dankbaar dat sy reeds die nodige fondse vir die tweede behandeling het. “Indien die behandeling werk, gaan ek vir die volgende twee jaar elke drie weke hierdie behandeling moet ontvang.”

Anneke is dankbaar vir almal se ondersteuning en sy is positief dat sy ten volle sal genees. Volgens haar was Woensdagaand se vertoning ’n reusesukses. “Ons het reeds R35 000 ingesamel en ek wag nog vir uitstaande geld van gisteraand,” se Anneke met dankbaarheid.

Lees vorige artikels hier: Ma van twee het slegs maand oor om te leefHulp vir Anneke RossouwAnneke op pad om eerste behandeling te ontvang.

Kyk na video wat Jakkie gemaak het vir Anneke hier:

Read 358 times

Add comment


Security code
Refresh

 

booked.net

Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account