Find It in Kimberley - Die lewe van ’n paramedikus
Thursday, 08 November 2018 10:12

Die lewe van ’n paramedikus Featured

Die skreeuende sirenes van ambulanse en rooi ligte laat mens altyd wonder waar daar ’n ongeluk was.

Ambulanse is oral herkenbaar, jy weet presies wat die nooddienste se nommers is, maar wat jy nie weet nie, is wie die persoon is wat weer eens ’n lewe gered het. Die persoon wat nog ’n aand nie by die huis geslaap het nie omdat hy moes uitry na ’n toneel waar iemand homself geskiet het. Jy lees van 'n paramedici wat op die ongelukstoneel was om ander mense se lewens te red, maar wie is daardie mense? Weet jy regtig wat hulle doen vir ander? Jou lewe is die volgende een wat hy dalk moet red.

FiND iT het in diepte gesels met een van Kimberley se paramedici oor die passie vir sy werk en die invloed wat hierdie beroep op sy lewe het.

André Keyser is die operateursbestuurder by Emer-G-Med in Kimberley. Op die ouderdom van 38 het hy al meer trauma saam met mense wat geliefdes verloor het beleef as wat meeste mense in ’n leeftyd sal beleef.

André het op die ouderdom van 16 reeds by die brandweer op Carletonville in die Wes-Rand aangesluit. “Ek het reeds in gr. 2 al besef ek wil mense red,” vertel André. En 22 jaar later is hy steeds bevoorreg om sy passie uit te leef.

Ergste brandtoneel

André was ongeveer vyf jaar lank in die brandweer. Hy vertel van een van die ergste tonele wat hy ervaar het: “Ons moes ’n vuur gaan blus op Welverdiend, ’n klein dorpie naby Carletonville. Dit was ’n ou tannie se huis. Ons het gesoek na die tannie en die vuur geblus. Teen die tyd wat die son opgekom het, het ons haar lyk in die gang gekry. Ons moes seker 20 keer verby haar geloop het, maar haar liggaam was so verbrand, dit was byna onherkenbaar.”

Behalwe dat André sy kwalifikasie in brandweerdienste het, het hy dit ook in ambulansdienste.

Sluit aan by Emer-G-Med

André het Augustus 2017 aangesluit by Emer-G-Med nadat hy sedert 2015 by Netcare gewerk het.

Uitdagings van ’n paramedikus

“Een van die uitdagings is beslis die lang ure wat ons moet werk. Ons is basies altyd op bystand,” sê André. “Jy slaap wanneer jy kans kry en jy slaap wanneer jy kans kry.”

Tonele

André vertel van sy eerste toneel waarheen hy moes gaan sonder ’n instrukteur. “Dit was nogal angswekkend. Dit was ’n broodlorrie wat ’n pa en sy seun, ’n kleuter, raakgery het. Ek het hulle op die toneel behandel en hulle is hospitaal toe.”

Haïti-ramp

André was in 2010 saam met ander paramedici deur die Suid-Afrikaanse regering gestuur na Haïti om te gaan uithelp waar drie miljoen mense deur ’n aardbewing geaffekteer is. Hulle was byna twee weke daar met geen kontak na hulle families in Suid-Afrika nie. André is die trotse pa van drie seuns, onderskeidelik ses, tien en 15 jaar oud. “Ons het die dag gevlieg toe my oudste seun gr. 1 toe is,” vertel André. “Rampe soos hierdie laat jou die kleiner goed in die lewe waardeer.”

Toneel waar broer is

André is ’n ruk gelede deur die beheerkamer uitgeroep om na ’n toneel te gaan waar iemand inmekaargesak het. Toe André daar aankom, het hy gesien dit is sy broer wat inmekaargesak het. “Ek het groot geskrik toe ek sien dit is my broer. Ek het aanvanklik kardiopulmonêre resussitasie (KPR) toegepas voordat ’n ander paramedikus kom oorvat het. Ek het teruggestaan, want in so 'n geval is jy nie meer ’n paramedikus nie, maar ’n familielid.”

Andre vertel ook dat hy kollegas aan die dood moes afstaan. “Ons was al op ongelukstonele waar die karre verbyjaag en my kollegas doodgery het.”

Dink mooi voordat jy hierdie beroep kies

As jy dit oorweeg om hierdie beroep te kies, dink mooi. Werk vir ’n ruk saam met ander paramedici om te sien waaroor dit gaan. Jy gaan nie ’n miljoenêr word nie, maar jy moet ’n passie hê hiervoor.

Kies hierdie beroep oor en oor

“Alhoewel hierdie beroep ’n groot impak op jou huisgesin en gesondheid het, sal ek dit oor en oor kies. Dit is ’n ondankbare, maar baie bevredigende werk. Mense wat hierdie werk doen, kan bevoorreg wees.”

André sluit af met die woorde: “Wat vir ander mense hulle ergste dag mag wees, is vir ons paramedici ’n doodnormale dag.”

 

Read 237 times

Add comment


Security code
Refresh

 

booked.net

Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account