Find It in Kimberley - Ma van twee het slegs maand oor om te leef
Wednesday, 17 October 2018 15:54

Ma van twee het slegs maand oor om te leef Featured

Anneke, Rupert en kinders Anneke, Rupert en kinders Foto verskaf

Anneke Rossouw (41) het in Oktober 2017 ’n knoppie op haar regter bo-arm ontdek.

“Die knoppie het vir my eers soos ’n puisie gelyk,” vertel Anneke. “Ek is dokter toe en dié het vir my gesê dit is ’n sist, ek kan dit laat uithaal of net daar los.” Anneke het besluit om dit vir eers te los. Nou kos hierdie knoppie Anneke byna R300 000.

Sist raak groter

“In Januarie het die knoppie groter geword en ek is terug dokter toe. Die dokters het my verseker dat dit normaal is vir die sist om groter te raak en dat ek dit ’n tydjie moet gee.” Teen April het die sist nog groter geword en weer eens is Anneke terug dokter toe. Hierdie keer het die dokter haar verwys na ’n bekende chirurg in Kimberley.

Klein operasie

“Die chirurg sou net ’n klein snytjie maak om die knoppie te verwyder.” Die mediese fonds waartoe Anneke-hulle in daardie stadium behoort het, wou nie betaal nie. “Omdat ek dit sommer in die dokter se spreekkamer laat doen het, was dit slegs R2 400 en ek het dit sommer kontant betaal.”

Net na die operasie het die dokter vir Anneke ingelig dat die knoppie nie was wat hy gedink dit is nie. En dat hy ’n gedeelte uitgesny het en weggestuur het.

Die skokkende nuus

"Op 13 Junie het ek alleen teruggegaan na die dokter toe vir my uitslae." Die dokter sê my toe ek moes nie alleen gekom het nie. "Hy het my ingelig ek het kanker - maligna melanoma. Dit is blykbaar een van die ergste velkankers wat jy kry,"vertel Anneke. “Ek het nie vir een oomblik gedink dit is kanker nie. Ek was teen die grond geslaan toe ek gehoor het dit is kanker.”

’n Paar dae later het Anneke se man, Rupert, saam met haar teruggegaan dokter toe sodat hy alles mooi aan hulle kon verduidelik.

Medies betaal nie

“My medies wou steeds nie betaal nie en ek is na Kimberley-hospitaal.” Op 7 Augustus 2018 het hulle 'n groot sny gemaak om die sist uit Anneke se arm te verwyder. Hulle het ook tien kliere onder Anneke se arms verwyder. “Alles was kwaadaardig.” Anneke is twee weke na die operasie terug hospitaal toe vir ’n skandering om te kyk hoe hulle die bestraling kan doen. “Dit is toe dat hulle sien daar is ’n sist in my weefsel en geen bestraling gaan werk nie.”

Organe verswak

Anneke moes twee weke wag vir die uitslae voordat sy op 3 Oktober gehoor het haar longe, skildklier en niere is besig om baie vinnig te verswak. Die dokters van Kimberley-hospitaal het Anneke ingelig dat hulle niks vir haar kan doen nie. “Hulle kan slegs vir my chemo gee om my lewe te verleng.”

Dit is tóé wat die ma van twee se man besluit om rond te bel in ’n poging om sy vrou te help. Hulle het ’n afspraak gemaak by dr. Chan, ’n onkoloog in Sandton. “Dr. Chan het my ingelig dat daar slegs een soort medikasie is wat my sal kan help, maar steeds wou die medies nie daarvoor betaal nie,” sê Anneke.

Anneke moet dringend behandeling ontvang

Dr. Chan het Anneke ingelig dat sy op die laatste middel November die behandeling sal moet ontvang. Volgens die dokter is Anneke se longe baie swak en het sy dringend behandeling nodig. As sy nie binnekort behandeling ontvang nie, kan sy versmoor.

Anneke se behandeling kos R96 000 per sessie.

“Dit is vir my baie erg om te besef dat my lewe aan geld gekoppel is, maar ek glo die Here het dr. Chan oor my pad gestuur om my te genees.”

Indien jy ’n bydrae wil maak om Anneke se lewe te red, kan jy 'n epos stuur aan This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. en ons sal jou in kontak bring met Anneke. 

Anneke se arm na die operasie.

Read 11822 times

Add comment


Security code
Refresh

 

booked.net

Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account