Find It in Kimberley - Nic en Jan staan saam deur dik en dun
Thursday, 11 October 2018 13:36

Nic en Jan staan saam deur dik en dun Featured

Jan en Nic Flemming is ’n identiese tweeling wat al 59 jaar inwoners van die Diamantstad is.  

Die tweeling, wat in Januarie 2019 60 jaar oud word, is op presies 40 weke in Kimberley gebore. Hulle is slegs 15 minute uit mekaar gebore en was fris en gesond en glad nie in ICU nie. Die tweeling maak beurte om mekaar te bel op hulle verjaarsdae.

Kattekwaad

Jan en Nic, wat baie geheg is aan mekaar en elke geleentheid wat hulle kry probeer om saam te kuier, vertel mense verwar hulle gereeld met mekaar. “ Ons help nie die mense reg nie en praat maar net saam,” vertel Nic en Jan.

Hulle het gereeld gekgeskeer met mense en veral met die meisies op skool.

“Ons het saam op dates gegaan en meisies fliek toe gevat. Nic en Jan het dan besef dat die een meer van die ander een se meisie hou en dan ruil hulle tydens pouse. Die meisies het nooit iets agtergekom nie en net voor die einde het ons teruggeruil,” vertel die twee.

Roeline, wat met Jan getroud is, vertel dat Jan te skaam was om haar om 'n date te vra. “Nic het my toe gebel en my op ’n date gevra en gemaak of hy Jan is.”

Lewensverhaal

Mense vra hulle wel of hulle soms kan aanvoel wat die ander een voel. “Nee, maar ek sal byvoorbeeld nie lekker voel die dag nie en as ek later vir Nic bel dan is hy siek,” vertel Jan.

Nic en Jan is die laatlamme van ses kinders. Hulle pa was 57 jaar oud toe die tweeling gebore is.

Jan is al vir 28 jaar 'n onderwyser by Elizabeth Conradie-skool, maar tree die einde van die jaar af. Hy is getroud met Roeline en hulle het drie kinders en vier kleinkinders.

Die kleinkinders raak ook soms deurmekaar oor watter oupa nou eintlik hulle oupa is vertel Roeline. “As hulle begin praat, kan die kleinkinders hulle aan hulle stemme uitken.”

Nic, ’n finansiële bestuurder by Vandewall en vennote, is met Mariette getroud en het twee seuns gehad. Hul een seun is in ’n fratsongeluk met ’n trein op die ouderdom van 33 jaar oorlede. Hulle het een kleinkind.

Amputasie

Alhoewel albei normaal gebore was, is Nic op 'n jong ouderdom gediagnoseer met polio. Kangereen is in ’n latere stadium in dieselfde been by hom gediagnoseer. Die been is geamputeer. Vandag is dit een van die kenmerke hoe mense hulle kan uitken van mekaar.

Volgens Roeline kon Jan vir ses maande nie by sy broer kom nie, omdat dit vir hom te erg was dat hy nog al twee sy bene het, maar nie sy broer nie.

Dit het die broers nie ondergekry nie en hul band net sterker gemaak. In 2003 is die broers saam Nigerië toe waar Nic gaan deelneem het aan die All Africa Games vir gestremdes. Jan was Nic se afrigter in die kragoptelafdeling.

Jan was ook in 2001 as Kimberliet van die jaar aangewys vir sy uit besondere diens aan gestremdes.

Lank lewe die liefde

Nic en Jan het ’n baie hegte band maar sit nie om dieselfde vuur as die Bulle teen die Vrystaat speel nie. Nic is 'n Bloubul en Jan skree vir die Cheetahs. Hulle verkies om die wedstryde by hulle eie huis te kyk. Anders is daar huismoles, lag Roeline. Hulle deel ’n groot liefde vir rugby en deel mekaar se sin vir humor. Lojaliteit is vir die twee broers baie belangrik.-Charne van der Merwe

  • Die tweeling se pa is op die ouderdom van 97 oorlede.” My kans om 'n twee man te kry, is maar skraal, aangesien my skoonpa so oud geword. Jan sal my nog oorleef. Hy gaan 'n groter kans hê vir ’n tweede huwelik as ek,” lag Roeline.

Read 1830 times

Add comment


Security code
Refresh

 

booked.net

Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account