Find It in Kimberley - Uit die pen van 'n joernalis: 'n Kind nes myne
Friday, 31 August 2018 14:12

Uit die pen van 'n joernalis: 'n Kind nes myne Featured

Uit die pen van 'n joernalis: 'n Kind nes myne Photo credit: Jackie Lea Sommers

Ek lewe my droom. Ek skryf, ek neem foto's. Ek weet van alles wat aangaan, die goed en die sleg.

Nuus is nuus. Soms word jy gekritiseer, ander kere geprys. 'n Storie is net 'n storie om jou lesers op hoogte te hou. Dis wat FiND iT doen! Maar toe kom die storie van Melissa Kanguya, die negejarige dogtertjie wat op 17 Augustus in Platfontein weggeraak het.

'n Kind is weg

Ek en nog 'n FiND iT-joernalis, Charné van Merwe, het uitgery Platfontein toe. Familie en vriende het voor haar ouerhuis saamgedrom, almal nog hoopvol dat hulle haar sal vind, lewendig sal vind. Melissa se ma was saam met die polisie in die veld om na haar dogtertjie te soek.

’n Aand het verbygegaan waartydens Melissa nie huis toe kom nie. Een aand het twee aande geword. Twee aande het ’n naweek geword. Daar was steeds geen teken van Melissa nie. Daar was kere wat ons saam gaan soek het in ’n onveilige gebied, onbekend aan my en Charné. Ons wou haar net so graag kry, maar terselfdertyd wou ons nie op ’n lewelose liggaampie afkom nie. Ons hoop het al minder geword.

Intussen het ons die drie minderjarige verdagtes in die hof gesien, die drie wat twee ander kinders verkrag het. Dieselfde drie wat verantwoordelik is vir Melissa se verdwyning. Dis drie minderjarige kinders. Hoe kan hulle dit doen aan kinders wat nie veel jonger is as hulle nie?

Donderdag 23 Augustus

Presies ’n week na Melissa se verdwyning. “Hulle het die kind gekry! Julle moet ry. Op die Griekwastad-pad.” Dis die boodskap wat ons op ons Whatsapp-groep gekry het. Lewe sy, wil ek weet. “Nee!” Ek en Charné jaag. Waar op die Griekwastad-pad weet ons nie. Waarvoor moet ons uitkyk? Wie het haar gekry? Wie is almal daar? Vrae wat maal terwyl nie ek of Charné weet wat om te verwag nie. Bang om haar te sien, bang vir die onbekende.

Melissa se liggaam

Ongeveer 17km uit op die Griekwastad-pad staan die polisie, die klompie karre en mense. Ons hou stil, klim uit, steeds onseker oor wat op ons wag. “Gee ons net kans, ons wil haar net eers toemaak,” sê ’n polisieman. Melissa is dood. Melissa lê langs die pad. Dis al wat ons weet, nie seker of ons moet nadergaan nie. Hier en daar sien ons gesigte wat bekend lyk, mense wat saam help soek het.

Daar lê sy

“Daar lê sy!” sê Charné. Maar sy loop aan. Sy kyk weg. “Kyk onder die boom.” Ongeveer 15m van die pad af, anderkant die draad onder ’n  boom lê Melissa se lewelose lyfie. Met die blou rompie aan, nes hulle beskryf het die dag van haar verdwyning.

’n Kind nes myne

Melissa se verdwyning is lankal nie net meer ’n gewone nuusstorie nie. Ons het deel geword van die soektog, gesien hoe familie se hoop minder word. Ons wou haar steeds veilig by haar ouers kry. Ek is ook ’n ma. Ek weet hoe kosbaar is kinders Op die toneel is Melissa se pa, ’n pa wat nou net gehoor het sy dogtertjie is dood. Ek het Melissa van ’n afstand af gesien. ’n Bruin lyfie wat leweloos in die veld lê. ’n Hartseer prentjie wat ek altyd sal onthou. Sy is ’n kind. Sy is ’n dogtertjie, amper so oud soos my eie. Charne bel my later die aand met die woorde: “Een ding wat ek vandag besef het, is daar is nie kleur verbind aan seer nie. Seer bly seer.” Dit is so waar. ’n Onskuldige kind is dood. Melissa was net 'n kind, iemand se kind, iemand se sussie en sy was iemand se maatjie. Sy bly ’n kind, ’n kind nes myne. - Alta van wyk

Read 919 times

Add comment


Security code
Refresh

 

booked.net

Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account